'n lewe na trauma
Ek was op kantoor, besig om met iemand op my selfoon te praat, toe my kollega 'n polisieman by die deur inbring. Ek het yskoud geword. Wie? Bertus, my man? Annelie? Henre?
Dit was nog altyd 'n realiteit dat mens in ons land gehijack kan word, dat jy doodgemaak kan word selfs net vir 'n selfoon, maar ek het nog altyd gedink dis iets wat met ander mense gebeur. Toe my man daardie oggend gehijack en doodgeskiet is, het my wereld inmekaar gestort. Hoe sou ek twee klein kindertjies alleen verder grootmaak? Wat sou word van my man se besigheid? Dit het juis die afgelope jaar nie so goed gegaan nie en hy het dag en nag gewerk om dit te red.
Ek het met soveel bitterheid rond geloop, veral toe ek die skuldiges in die hof moes aanskou. Hulle het geen berou gehad nie en hulle was so arrogant. Hoe moes ek met my lewe aangaan? Ek kon hulle nie vergewe nie. Die bitterheid het my opgevreet. Ek het snags so op my tande gekners dat ek elke oggend met 'n vreeslike hoofpyn wakker geword het. Ek kon nie meer 'n ma vir my kinders wees nie. Ek het soos 'n masjien deur al die daaglikse take gegaan en het hulle nie meer gedruk en gesoen soos vroeer nie. Hulle het kort-kort gehuil en vreeslik met mekaar baklei. Oor niks. Ek het die besigheid oorgeneem en dit het al my tyd geverg want ons moes finansieel oorleef. Wat sou van ons word as daar nie meer 'n inkomste was nie? Ek was ook permanent bang dat daar iets vreeslik met ons sou gebeur, soos dat ons in die nag oorval sou word. Daarom het ek ons aldrie vroegaand in my kamer toegesluit en die alarm aangesit. Ek kon nie slaap nie en elke geluidjie het my regop in die bed laat sit. Bedags was ek doodbang dat my kinders ontvoer sou word of dat ons ook gehijack sou word. Ek het my kinders oorbeskerm en het nie eens meer toegelaat dat hulle by maatjies gaan speel sonder my nie.
My kinders, wat altyd so goed aangepas was, het agteruit begin gaan. Annelie het bed natgemaak en Henre het in 'n boelie ontaard. Die skool het my vir terapie na Cizelle verwys. Sy het aanbeveel dat ek eers vir 'n paar sessies alleen vir terapie kom. Ek het geleidelik begin opstaan en sterker geword en die effek op die kinders het my verras. Die bitterheid het ook stadigaan verminder. Ek het dit reggekry om ter wille van myself en my kinders te vergewe.
Toe het ons met gesinsterapie begin. Eers het ons net gespeel. Later het Cizelle vir my verduidelik dat dit belangrik is om 'n positiewe realiteit te ontwikkel. Ons moes werk daaraan om ons land nie net as gevaarlik te sien nie, want dis nie die enigste realiteit nie. Ek moes begin om positief te praat. Ek was geneig om voor die kinders met vriende en familie te praat oor slegte berigte wat in die koerant was (aanvalle en moord en doodslag), om negatiewe dinge oor die hofsaak en die skuldiges te se en om vir mense te se dat ek dit oorweeg om die land te verlaat. Cizelle het uitgewys dat ek my kinders bang en onseker laat voel het. Ek moes hulle veilig en geborge laat voel. Om 'n positiewe realiteit te skep het ons drie saam met Cizelle plakkate begin maak van die positiewe goed in ons lewens en in ons land, wat vir ons lekker is en wat ons gelukkig maak. Ons het die plakkate gelamineer en orals in die huis opgesit. Daarna het ons vir die eerste keer in drie jaar weer gaan vakansie hou. Voorheen was ek te bang om 'n lang pad te ry. Na daardie vakansie het my kinders weer uit hulle magies begin lag. Ons kon weer oor hulle pa praat en het ook 'n plakkaat oor sy lewe gemaak wat vir ons al drie baie beteken het.
Ek werk nog steeds aan my vrees dat die kinders iets kan oorkom. Die polisie was nou die dag by die werk om een van my werknemers in hegtenis te neem en toe ek hulle deur die venster sien aankom, was ek buite myself van angs. Van dag tot dag gaan dit tog beter en die kinders is weer goed aangepas en gelukkig. Ons doen ook wat ons in terapie geleer het: om elke dag vir mekaar te vertel van die goeie goed wat gebeur het en ons skryf dit saans voor slaaptyd in ons dankbaarheidsjoernaal. Ons sal nooit weer geluk as vanselfsprekend aanvaar nie.
"Louise"