"Ek is Susan ..."
Dalk ken jy my. Dalk nie. Maar wanneer jy verder lees gaan jy miskien 'n déjà vu gevoel kry en vir jouself vra: Waar het ek hierdie girl al ontmoet? Sy klink so bekend!
Kom ek vertel jou van myself.
Ek is iemand van wie jy maklik sal hou. Ek lag maklik. Selfs al voel ek soms (miskien selfs dikwels) nie 100% gemaklik in my eie vel nie. Ek lag maklik wanneer ek by jou is, want ek wil jou gemaklik laat voel. Dis eintlik eenvoudig: mense is vir my belangrik. Ek gee my alles vir hulle. Selfs wanneer ek weet dit gaan my te veel uitput. Selfs wanneer ek nie so hot voel nie. Veral vir my man en kinders probeer ek my alles gee. My vriendinne. Ons diere. Ek wil hulle gelukkig maak. Daarom gee ek baie van myself. Ek gee en gee en gee. En verwag nie baie terug nie. Baie mense het al vir my gesê: "Susan, girl, wanneer gaan jy ook vir jouself begin sorg? Jy het dit ook nodig om gepamper te word, om partykeer voor in die ry te staan. Maar jy is altyd die een wat jouself een honderd persent gee en niks terug verwag nie." Sulke opmerkings tref my op die krop van my maag. Ek moet sluk om my trane terug te hou. En dan wil ek sê (maar natuurlik sal ek nie): "Pel, jy is in die kol, maar dit maak seer. Want hoe verander ek dit?"
Kom ons gaan terug na die stukkie hierbo waar ek gesê het ek is nie 100% gemaklik in my vel nie. Nou kyk, hoewel ek baie lag en uit my pad gaan vir almal en na buite die beeld voorhou van iemand wat alles in plek het, is dit eintlik nie die volle waarheid nie. Ek sukkel. Ek trek swaar. En ek weet nie mooi waarom nie. Ek sukkel veral met spanning en allerhande vrese. En dis vir my baie moeilik om dit te erken, want ek is 'n wedergebore Christen wat veronderstel is om 'n binnekant vol vrede te hê. Hoekom kan ek die Here nie volledig vertrou en al my onsekerhede aan Hom oorgee nie?
Hierdie ding is soos 'n gekoekte bol wol. Waar begin mens om dit te ontrafel? Op hierdie stadium weet ek net die wol is gekoek. Ek weet net die geweldige spanning maak dit in die eerste plek vir my baie moeilik om te slaap. Dis asof ek nie kan afskakel nie. Die dag se gebeure bly in my kop voor my afspeel. Ek sien veral die dinge raak waarin ek misluk het. Soms voel dit asof iemand met so baie mislukkings nie veronderstel is om te lewe nie. My teenwoordigheid maak die wereld net 'n slegter plek. En ek weet as ander mense moet hoor watter "mislukkings" my so ontstel, sal hulle dink ek is van my trollie af! Dinge soos 'n opmerking of voorstel wat ek gemaak het en toe lag mense daaroor. Of 'n oomblik waarin ek my humeur vir my kind verloor het en ek die trane in haar oe moes sien, moes sien hoe styf haar mond trek van onderdrukte woede. Een van my kinders het selfs al vir my gesê ek is ‘n "ou heks"! Of die vloekwoord wat oor my lippe gekom het toe die taxi skielik voor my ingedraai het. Iets wat 'n goeie Christen nie behoort te doen nie. En dit nogal voor die kinders. Of die feit dat daar dae omgaan wat ek en Peet (dis nou my man) nie 'n sinvolle woord met mekaar gesels nie. Net dinge soos "Het die hond al kos gekry?" en "Sal jy asb vir Ruan by die skool gaan haal?" Noudat ek dit hier vertel besef ek dis alles tekens dat die wol gekoek is en ek het nie 'n cooking clue waar om te begin om dit te ontkoek nie.
'n "Suksesvolle" vrou soos ek behoort seker op haar suksesse te fokus. Soos my besigheid wat ongeag die swak ekonomie floreer. Dit stel ons as gesin in staat om meer te beskostig as net die basiese dinge. Ons kan dikwels gaan vakansie hou. Selfs jaarliks oorsee gaan met die kinders. Nog 'n sukses waarop ek behoort te fokus is die goeie verhoudinge wat ek met my personeel het. Hulle beskou my nie net as 'n werkgewer nie, maar ook as 'n mentor. Ek kon die afgelope paar jaar sien hoe hulle as mense gegroei het en persoonlike probleme oorkom het. Dit alles danksy gesprekke wat ons gehad het in tye van swaarkry.
Maar is dit nie ironies nie? Ek het omtrent niemand met wie ek oor my swaarkry kan praat nie. Byvoorbeeld oor die afstand wat daar tussen my en Peet is. ‘n Afstand wat elke dag groter word. Ek wonder gereeld of daar dalk iemand anders in sy lewe is. Maar dit kan ek mos nie vir my vriendinne vertel nie? Hoe kan ek hom in ‘n slegte lig stel? En as ek baie eerlik moet wees ... Ek sit selfs by die meeste van my vriendinne my beste voetjie voor want ek moet tog daar wees vir hulle. Ek moet ‘n voorbeeld wees soos wat ek van kleins af was. Die oudste van vier kinders. Die kind van twee onderwysers. ‘n Streng opvoeding. 'n Leier op laerskool en hoërskool. ‘n Voorbeeld. ‘n Goeie presteerder. Ek kan mos nie nou ingee nie. Ek moet volhou om alles in te sit om hierdie gekoekte bol wol self te probeer ontrafel.
Onhoudbare spanning. Woede teenoor my gesin. Wakker lê in die nag. Padwoede.
Niemand by die werk of in my vriendekring sal kan dink dat ek met hierdie goed sukkel nie. En daarom kan ek nie met een van hulle praat nie. Hulle sal ongelooflik geskok en teleurgesteld wees. Daar is net Anne-Marie wat ‘n vriendin duisend is en met wie ek soms kan praat. Sy troos en paai en is daar vir my. Soms raas sy met my wat so genadeloos krities is teenoor myself. Maar sy weet ook nie raad nie. Sy is dikwels ook maar net so clueless soos ek.
En Peet ... Ja, mans. Hulle wil alles fix. Maklik-maklik. Wanneer ek af en toe in ‘n oomblik van swakheid laat blyk dat ek keelvol is, sê hy goed soos: "Ruk jouself reg." "Toemaar, ons gaan een van die dae met vakansie, jy’s net moeg." "Dis omdat jy nie gym toe gaan nie. En ons betaal elke maand vir ons lidmaatskap ..."
Waar begin ek ...? Waarheen gaan ek?
Ja, ek is Susan. Ken jy my dalk? Woon jy miskien elke dag binne-in my vel?